top of page

Biltong, Broccoli & Letting Go

Aug 31
5 min read

My oudste seun het besluit hy is nou ’n vegetarian.

Sommer net so.


En natuurlik is dit sý besluit. Sy lyf, sy kos, sy redes. Ek het eintlik glad nie ’n probleem daarmee nie. Daar is lekker vegetariese kos in die wêreld en ek is heeltemal capable om ’n maaltyd sonder ’n stuk vleis op die bord te maak.


Die probleem is net…


Wanneer een persoon in ’n huis besluit hy eet nie meer vleis nie, bly dit nie noodwendig net één persoon se besluit nie.

Want toe begin Reuven ook al hoe minder belangstel in vleis.

En skielik staan ek daar met vleis wat ek vir die gesin gemaak het, twee mense wat dit nie wil eet nie, en ’n yskas vol leftovers wat ek absoluut weier om weg te gooi.

Ek is nie seker presies wanneer my kinders se vegetariese era ook begin beteken het ék eet nou minder vleis nie, maar hier is ons.


Boonop, "Rest in Peace" Reuven die hoender voordat hy begin eet soos 'n post-disclaimer na die tafelgebed.


Aanvanklik het ek gedink daar sal seker uitsonderings wees.

Jy weet... Die goed wat niemand rêrig kan weerstaan nie.


Ek gaan koop biltong.


Biltong wat terloops, deesdae voel asof dit per gram teen die goudprys verkoop word. Way bo budget.

Maar ek koop dit.

Aspris.

Amper soos ’n lokval.


Nee. Dit is 'n lokval.


Want in my kop was dit iets soos: Okay fine. Vegertarian, vegetarian ... maar kom ons kyk wat gebeur wanneer daar biltong op die counter lê.


Niks het gebeur nie.

Dit is nie eens aangeraak nie.

En ek dink dit was dalk die eerste oomblik wat ek besef het hierdie is nie net ’n fase wat ek met goeie biltong kan uitvang nie.

Hy bedoel dit.


Toe gebeur daar nog iets wat my effens meer laat dink het as wat ’n bord stir-fry waarskynlik behoort. Ek het die vorige aand vark gebraai en daar was oor.

Uiteraard kon ek dit nie laat mors nie. Want ons mors nie kos nie.


Ek weet nie of dit deel is van hoe ek grootgeword het, of net een van daardie diep ingeboude goed in my kop is nie, maar goeie kos word nie weggegooi nie. Punt.


So ek maak die volgende aand ’n stir-fry. Ek maak die groente apart, met die plan om later die gebraaide vark in repies te sny en by my porsie te gooi.

En toe proe ek die stir-fry vóór die vark ingaan.

Fantasties.

Regtig lekker.

Die soort lekker waar jy eintlik niks anders nodig het nie.


Maar daar lê die vark.

En ons mors nie kos nie.

So ek sny dit op. Gooi dit in. Eet dit.


En weet jy wat?


Ek het die gereg minder geniet mét die vleis as daarsonder.

Nie omdat die vark sleg was nie. Nie omdat ek nou skielik op pad is om my braaitang op Marketplace te sit en my lewe aan lensies toe te wy nie.

Dit het net… geforseerd gevoel. Asof ek iets probeer inwerk het omdat dit daar was, nie omdat die gereg dit nodig gehad het nie.


En toe tref dit my dat ons dit eintlik nogal baie in die lewe doen. Ons beland in ’n nuwe situasie, maar probeer steeds die ou manier van doen daarin inforseer.

Ons hou vas aan ’n gewoonte, ’n plan, ’n verwagting, ’n idee van hoe iets “behoort” te lyk — nie noodwendig omdat dit nog werk nie, maar omdat dit bekend is.

Omdat ons dit reeds het.

Omdat dit tog nog bruikbaar is.

Omdat dit amper verkeerd voel om iets te laat gaan - want ander mense het minder. Maar miskien pas dit eenvoudig nie meer by die nuwe gereg nie.

En dalk is dit soms juis die probleem: ons probeer so hard om iets ouds te red, dat ons uiteindelik die nuwe ding minder geniet.


Daardie aand het ek besef dat “ons mors nie” en “ons moet dit ten alle koste inwerk” nie noodwendig dieselfde ding is nie. Ek het iets wat klaar heerlik was verander, bloot omdat ek gevoel het ek móét. En hoe meer ek daaroor dink, hoe meer voel hierdie hele vegetariese storie vir my ’n bietjie soos dit.


My kinders verander.

Hulle maak hulle eie keuses.

Hulle ontwikkel hulle eie waardes, voorkeure en oortuigings oor hoe hulle wil leef.


En ek kan probeer om die ou manier van doen netjies tussenin te druk omdat dit is hoe ons nog altyd dinge gedoen het.

Ek kan selfs belaglik duur biltong koop en dit soos ’n lokval op die counter los.

Of ek kan dalk eers proe wat voor my is.

Net om te sien of dit nie dalk klaar goed is nie.


En miskien is daar vir my ook iets geestelik hierin.


Ek bid maklik dat God my kinders sal lei, vorm en hulle eie oortuigings sal gee. Maar wanneer daardie oortuigings anders begin lyk as wat ék sou kies, is my eerste instink soms steeds om die ou resep terug te probeer druk. Miskien beteken vertroue nie net dat ek God vra om met hulle te werk nie, maar dat ek Hom genoeg vertrou om nie elke verandering te probeer beheer nie. Selfs wanneer daardie verandering begin met iets so klein en alledaags soos wat op die etenstafel beland.


Dit beteken natuurlik nie ek gaan môre my hele kombuis omskep en tofu op ’n Saterdagmiddag begin marineer nie.

Kom ons raak nou nie belaglik nie.

Maar dit beteken dalk ek hoef ook nie vleis in elke ete te probeer red net omdat dit daar is nie.


En dit laat my met ’n vraag waaroor ek regtig nuuskierig is...


Wat doen jy wanneer jou kind ’n persoonlike keuse maak wat uiteindelik die hele huis beïnvloed?

Maak jy twee etes?

Sê jy: “Hier is wat ons eet, sorteer jouself uit”?

Pas almal aan?

Begin die hele gesin later anders eet?

En hoe voel jy wanneer jou kind se besluit stadig maar seker jou eie gewoontes begin verander?


Ek het nog nie ’n groot antwoord daarop nie.

Ek weet net my oudste het nie bloot vleis van sý bord afgehaal nie.

Hy het, sonder dat hy dit bedoel het, ’n paar van my idees oor wat ’n “behoorlike ete” is ook begin rondskuif.

En dalk is dit maar deel van kinders grootmaak.

Op ’n stadium hou jy op om net húlle te leer hoe die wêreld werk.

En begin hulle, heel onverwags, ’n paar van jou eie reëls bevraagteken.


Volgende keer as die stir-fry klaar perfek smaak, los ek die vark uit.


En volgende keer as ek R300 se biltong as emosionele manipulasie koop, eet ek dit self.

 
 
 

Comments


© 2025 MK Creative

bottom of page