Soms is die Wind die Antwoord
- Madre Kohn
- 2 hours ago
- 2 min read
’n Onverwagse (vinnige) blog post op 'n Saterdagaand...
Vandag het ek nie my gewone Saterdagmiddag-wyntjie op die stoep geniet nie.
Die weer het eenvoudig nie saam gespeel nie. Ek het voor die glasdeur gaan sit, my glasie stadig gedraai in my hand, en deur die venster gekyk. Dit het gereën. Gesous eintlik. Die soort reën wat jou gedagtes stilmaak en jou dwing om te kyk. En te voel.
En toe kom die wind ook.
Eers het dit gevoel soos nóg 'n las - regtig nou ook wind? Ek wou eintlik more braai. Maar toe sien ek iets wat my laat dieper dink: Daardie wind het begin werk. Hy het die donker wolke begin wegwaai. En daar, tussen die skeure van die donkergrys, het lig begin deurkom. Beautiful lig in verskillende skakerings, soos 'n painting, wat voor my geverf word. Nie in 'n dramatiese manier nie. Net sag, subtiel en natuurlik.
En toe tref dit my: Ek het gedink aan hoe dit soms met ons siel gebeur. Jy’s al moeg van die aanhoudende reën van hartseer, onsekerheid of verlies. En dan tref die wind jou ook nog - ’n onverwagse moeilike ding, ’n verandering, of woorde wat seer maak. En jy dink:“Regtig, Here? Hierdie ook nog?”
Maar soms is dit juis die wind wat God stuur om die lug oop te waai. Dis nie altyd straf nie. Dis skoonmaak. Nie vernietiging nie, maar voorbereiding.
Soms is die wind die antwoord op jou gebed - jy het gevra vir lig, en God stuur eers ’n wind. Dis nie altyd maklik nie. Maar dit is genade.
En dalk is dit al wat ek vanaand moes sien: Dat selfs die wind sy plek het. Al sien ons dit nie dadelik raak nie.
Commentaires