top of page

’n Reënboogbelofte

  • 5 days ago
  • 6 min read

(Scroll na heel onder as jy eerder die audio clip wil luister!)


Ek het nog nooit rêrig hieroor geskryf nie.


Nie oor hoe ek daardie dag half senuweeagtig, half hoopvol die offer op die huis in Malmesbury geteken het nie. Nie oor hoe groot dit gevoel het nie. Nie oor hoe mens party keer iets teken met ’n pen in jou hand en ’n knop in jou keel, omdat jy nie heeltemal seker is of jy besig is om iets dapper te doen of iets simpel nie.


Ek het net geweet: Hierdie is groot. Hierdie is nie net bakstene en verf en ’n erf met te veel werk nie. Hierdie voel soos ’n massive skuif en verantwoordelikheid. Soos iets wat moontlik meer gaan vra as wat ek op daardie stadium geweet het ek het om te gee. En iets wat ek geweet het 'as die kak die fan strike', ek dit op my eie sal moet dra. Want dis net my handtekening op hierdie stuk papier.


En toe, later, oppad na my huurhuis net buite Malmesbury, het ek (aspris) daar verby gery, en dit gesien:


’n Reënboog. Nie sommer net iewers in die verte nie. ’n Showcase van ’n reënboog geraam oor die huis soos ek by die heuwel afgery kom.


Ek onthou nog hoe dit my laat regop sit en vooroor leuen in my kar om die storie te aanskou. Hoe dit gevoel het soos een van daardie oomblikke wat mens nie mooi logies kan verduidelik nie, maar wat jy net in jou binneste wéét: Hierdie beteken iets vir my.


Ek het dit as ’n belofte ervaar.


Nie noodwendig ’n belofte dat alles maklik gaan wees nie. Maar iets in my het geweet: Jy moet hierdie onthou. Jy moet hierdie bêre. Hier is iets vir later.


Toe gaan lees ek later weer oor wat ’n reënboog simboliseer. Belofte. Hoop. Verbond. Die soort teken wat jou herinner dat God nie weg is net omdat die storm pas deur is nie.


In Genesis 9 gee God die reënboog as teken van Sy verbond met Noag, sy nageslag en “alle lewende wesens”, en sê Hy dat die waters nooit weer die aarde deur ’n vloed sal vernietig nie. Die reënboog praat dus van God se getrouheid, genade en herinnering aan Sy belofte.


En soos baie van ons seker maak, het ek daardie oomblik dalk ook my eie prentjie begin inkleur van hoe so ’n belofte gaan lyk. Dat dinge in plek sal val. Dat daar voorsiening sal wees op mooi, duidelike, obvious maniere. Dat hulp op die regte tye sal opdaag. Dat ek sal weet wat om te doen. Dat die pad miskien nog uitdagend sal wees, ja, maar darem nie só alleen nie.


Ek het nie besef nie: Party beloftes arriveer nie as maklike uitkomste en white picket fence stories nie. Party beloftes arriveer as iets wat eers maande, of selfs jare, later vir jou begin sin maak.


Vanaand sit ek buite en kyk uit oor die jaart.

Die string lights maak my hart gelukkig.


Ek dink oor alles wat nog gedoen moet word. Oor hoeveel werk daar nog lê. Oor die stilte van ’n plek wat nie homself gaan regmaak nie. Oor die realiteit dat daar nie nou iemand is wat van die kantlyn af inkom en sê: “Moenie worry nie, ek vat oor” nie.


En skielik tref dit my:

Ek was al voorheen in ’n plek soos hierdie.


Nie noodwendig dieselfde plek nie. Maar dieselfde soort plek. Daardie plek waar jy voor jou uit kyk en net sien hoeveel daar nog gedra, oorleef, besluit en reggemaak moet word. Daardie plek waar alles te veel voel. Daardie plek waar jy nie trots voel nie. Net moeg. Net seer. Net alleen.


Daardie tyd toe Jody oorlede is.


Daardie tyd wat ek vandag amper van buite af kan onthou, omdat ek weet hoe rou ek was. Hoe stukkend. Hoe desperaat vir iets of iemand om net te step up wanneer ek dit die nodigste gehad het.


Ek het aaklige video’s en foto’s van myself uit daardie tyd. Die soort wat jy amper nie wil sien in jou Google photo memories nie, want jy kan sien hoe iemand probeer cope en eintlik besig is om net-net nie heeltemal onder te gaan nie.


Ek was die mens wat snow angels in die vlooisand (waar daar op 'n tyd gras was) histeries met trane wat spat gemaak het. Die mens wat voicenotes vir haar oorlede man gestuur het, nét daar in die sand en vlooie, omdat die pyn êrens heen moes gaan. Die mens wat nie geweet het hoe hierdie lewe vorentoe lyk nie.


En ek dink dis hoekom vanaand my so diep tref.


Want die situasie van nou en die situasie van toe is nie dieselfde nie - maar daar is genoeg ooreenkomste om iets baie duidelik vir my te wys:


Ek is nie meer daardie vrou nie.


Hierdie keer kyk ek uit oor die jaart en ek vou nie in nie. Ek val nie in ’n hoop van hulpeloosheid nie. Ek sit nie en wag vir redding om op te daag voor ek kan asemhaal nie.


Hierdie keer kyk ek en ek embrace dit.


Nie omdat dit maklik is nie. Nie omdat ek skielik one woman construction crew of emotional iron lady of wat ook al geword het nie. Maar omdat ek nou weet wat dit is om deur iets baie erger te gaan en nog steeds aan die anderkant uit te kom.


Dis amper meer ’n: bring it on, bitch gevoel.


Trots. Selfversekerd. Nie arrogant nie - steeds humble. Net baie beter as wat ek was.


En dalk is dít wat ek nou begin verstaan van daardie reënboog.


Dat die belofte nie noodwendig was: “Jy gaan nooit weer alleen voel nie.” of “Hierdie huis en hierdie nuwe hoofstuk gaan sag en maklik ontvou.” of “Van nou af gaan hulp altyd op tyd arriveer.”


Dalk was die belofte eerder:


Jy gaan nie verniet deur die vuur gaan nie. Jy gaan nie dieselfde bly nie. Ek gaan iets in jou bou wat jy nog gaan nodig kry.

Want as ek nou terugkyk, sien ek dit.


Ek sien hoe daardie verskriklike seisoen my nie net gebreek het nie - dit het my ook gevorm. Ek sien hoe die goed wat my laat voel het ek gaan dit nie maak nie, eintlik stil-stil besig was om spiere in my te bou wat ek nog nie gehad het nie. Ek sien hoe daardie weergawe van myself, die een in die sand en die voicenotes en die coping mechanisms, nie swak was nie. Sy was besig om te oorleef, maar ook te vorm in iets wat sy nooit sou geword het sonder daardie super kak tye nie.


En oorleef is soms die rou/bou materiaal waaruit ’n sterker vrou later gemaak word.

Dis hoekom ek versigtig is om goedkoop inspirasie vir vroue te gee. Ek wil nie vir iemand wat nou in haar eie donker tyd sit, sê: “Ag, moenie worry nie, jy gaan sterker anderkant uitkom,” asof dit die huidige seer minder maak nie.


Want party dae is net kak. Punt. Dis die waarheid. Party seisoene is lelik. Party hoofstukke lyk glad nie soos ’n belofte nie.


Maar ek wil dit tog sê, want ek weet dit nou van my eie storie:

Next time, you will be better. Nie perfek nie. Nie untouchable nie.


Maar beter.


More steady. Wyser. Minder paniekerig. Minder afhanklik van iemand anders om jou van jouself of jou omstandighede te red. Meer aware van wat jy kan dra. Meer vertroud met jou eie krag. Meer in staat om na amper dieselfde tipe storm te kyk en te sê: “Ek weet nie presies hoe nie, maar ek sal. Want ek het al.”


En miskien is dit hoe ’n belofte party keer lyk.


Nie as ’n lewe wat presies uitdraai soos jy gehoop het nie. Nie as ’n pad sonder verlies, stof, bloed en sweet, oorweldiging of dae wat jou laat huil in die badkamer (of vlooisand) nie. Nie as ’n netjiese before-and-after storie nie.


Maar as hierdie diep, stil ding wat jy eers later snap:

Die storm het nie net oor my gekom nie. Dit het ook iets in my gebou.


So ja, ek glo nog steeds daardie reënboog was ’n belofte van die Here.

Ek het net verkeerd geraai oor hoe die belofte sou lyk.


Ek het gedink dit sal dalk lyk soos beskerming teen swaar wat ons deur is al. Maar dalk het dit eintlik gelyk soos genade ín die swaar. Soos krag wat nie oornag kom nie, maar oor tyd. Soos ’n vrou wat een dag opkyk oor ’n jaart vol werk en besef:


Hierdie is baie. Hierdie is nie maklik nie. Hierdie is nie hoe ek gedink het dit sou lyk nie. Maar dis heel do-able. Actually.


En kyk hoe het ek verander.

En soms is dít die reënboog belofte.

Indien jy eerder wil luister as lees, hier lees ek vir jou:




 
 
 

Comments


© 2025 MK Creative

bottom of page