top of page

Vir die self-gediagnoseerde onromantiese mans daar buite

  • Mar 26
  • 6 min read

Voor iemand nou dadelik wonder of hierdie blog post oor een spesifieke man geskryf is: Nee.


Wel… nie nét oor een nie. Kom ons sê eerder dis geïnspireer deur ’n hele, baie herkenbare kategorie mans wat “ek is nie romanties nie” gebruik asof dit ’n mediese diagnose is en nie ’n keuse nie. Jy ken seker een. Ek ook. Jy is dalk een. Hierdie tipe duik so gereeld in verhoudings op dat hy amper sy eie persoonlikheidstoets verdien. En dalk is dit juis hoekom ons bietjie daaroor moet gesels - want êrens tussen “dis net nie my ding nie” en “jy verwag te veel” het baie vroue begin wonder of romantiek regtig te veel gevra is … en of moeite net vir sommige mense ophou sodra hulle klaar “gewen” het.


So hier ga't ons:


Dis altyd interessant hoe baie mans hierdie sin met so ’n kombinasie van trots en verskoning sê:

“Jy weet ek is nie romanties nie.”

Dis amper soos ’n badge van eer. ’n “Ek’s nie soos daai cheesy ouens wat blomme koop nie”-ding. Of dalk net ’n maklike uitweg uit enigiets wat effens gevoelens-gefokus is. Maar laat ons nou maar eerlik wees - dis nie dat jy nie kan nie. Dis dat jy nie wil nie.


Niemand word gebore met die vermoë om blomme te koop en ’n kaartjie te skryf nie. Jy’t ook nie uit die hospitaal gekom in 'n Takealot boks vol scented strips en roseblaar-konfetti nie. Maar jy’t tog geleer hoe om ’n braai aan die gang te kry in gale force winds, ’n sleepwa agteruit in te reverse, al die rugby reëls te ken, en jou bakkie se snaakse geluide te diagnoseer sonder enige formele opleiding. Jy kan leer om romanties te wees. Jy kies net nie om te probeer nie.



Kom ons ontleed die “ek is nie romanties nie”-verskoning gou:


  1. “Ek’s gemaklik.”

    Vertaling: Ek weet jy’s hier, jy bly hier, en ek hoef nie meer te jag nie. Daai fase waar jy jou hare elke dag gedoen het en hy sy hemp uitgekies het met opset? Ja, dis verby. Nou’s ons in die “ou T-shirt en sokkies”-seisoen. Maar gemaklikheid is nie ’n lisensie vir letting go nie. Dis die plek waar moeite hoort te groei - nie verdwyn nie.


  1. “Ek’s ongemaklik.”

    Vertaling: Ek’s bang ek gaan simpel lyk. Dis moeilik om jou hart te wys as jy jou lewe lank geleer is om dit toe te hou. Maar weet jy wat? Niemand onthou presies wat jy gedoen het nie - hulle onthou hoe jy hulle laat voel het.


  2. “Ek’s moeg.”

    Vertaling: Ek spaar my energie vir goed wat ek wíl doen (soos YouTube, bike ry of fantasy league). En dis okay om moeg te wees, maar moenie verwag iemand anders moet steeds vlamme aan die brand hou terwyl jy ’n koue kool is nie.


  3. “Ek’s nie lus nie.”

    Vertaling: Jy’s nie meer my prioriteit nie. Hierdie een steek mens reg in die krop. Want dis nie oor tyd of geld nie - dis oor aandag. Dis oor “ek sien jou”, “ek hoor jou”, en “ek kies jou weer”.


  4. “Ek dink dis onnodig.”

    Vertaling: Ek verstaan nie dat klein gebare groot verskil maak nie. Dis nie die roos nie - dis die “ek het aan jou gedink toe ek dit gesien het.” Dis nie die restaurant nie - dis die arm wat om jou skouers rus op die sitkamerbank.



Being romantic/thoughtful is nie duur of dramaties nie


Dis nie nodig om met ’n kitaar onder my venster te sing nie.

Romantiek is in daai klein goed:


  • ’n WhatsApp wat sê “sterkte met jou dag” voor die chaos begin.

  • Om die spesiale (en hartseer) dae te onthou en te acknowledge - of dit nou haar oorlede man se doodsherdenking is, of die dag toe julle moontlik ontmoet het. Selfs al is jy dalk vies oor iets op daardie stadium.

  • Om te onthou hoe sy haar koffie drink, eiers of steak eet.

  • Om die TV af te sit en regtig te luister.

  • Of om net te sê: “Ek’s dankbaar vir jou.” op random occasions.

  • Om te help in en om die huis wanneer jy sien jou mens verdrink, al is jy moeg.


Dis effort — nie estetics nie. En as jy sê jy’s nie romanties nie, sê jy eintlik:

“Ek’s nie bereid om moeite te doen om jou gesien te laat voel nie.”

En dis nie “manlik” of “realisties” of “prakties” nie — dis net lui.



Dis nie ’n persoonlikheidstrek nie. Dis ’n besluit.


Romantiek is nie iets waarmee jy gebore word nie. Dis iets wat jy oefen - soos om te onthou waar jy jou kar geparkeer het by Checkers.


Jy vergeet, jy probeer weer, jy doen beter.


Dis die klein gebare wat ’n groot “ek sien jou” sê. Dis daai oomblik waar jy vir jouself sê: “Ek weet dis nie my ding nie, maar dis háár ding.”


En dit, my vriend, is hoe jy die game wen sonder roosblaar of viool.



En vir die leser aan die ander kant van hierdie post...


As jy daai sin al te veel keer gehoor het —

“Ek’s net nie so romanties nie,” onthou: dis nie jou werk om iemand te leer hoe om moeite te doen nie. Jy kan aanmoedig, inspireer, modelleer, maar jy kan nie motivering in iemand inasem wat nie wil asemhaal nie.

Jy is die moeite werd. Jy verdien gebare, woorde, en aandag wat wys dat iemand nog kies om te probeer.


So ja, dis maklik om te sê “ek is nie romanties nie”. Maar dis moeiliker om te erken: “Ek het opgehou probeer.” En dalk - net dalk - is dit waar die gesprek eintlik moet begin.


En dalk is dit waar die gesprek vir ons as vroue ook begin.


Nie by: hoe kry ek hom om romanties te wees nie?

Maar by: hoe lank bly ek stil oor wat ek nodig het?


Want ja - liefde gee. ’n Huwelik vra opoffering, genade, geduld, sagtheid. Ons weet dit. Ons leef dit. En ek glo nie elke seisoen gaan 50/50 lyk nie. Party dae dra die een meer. Party seisoene gee die ander een meer. Dis normaal.


Maar daar is ’n verskil tussen liefde gee en jouself stadig leeg te gee.


Daar is ’n verskil tussen iemand genade gee omdat hy deur ’n moeilike tyd gaan, en om aanhoudend verskonings te maak vir iemand wat net lankal opgehou probeer het.


Jy hoef nie kwaad, hard of onredelik te wees om te sê:


“Hierdie werk nie meer vir my nie.”

“Ek mis moeite.”

“Ek wil nie net veilig voel in hierdie verhouding nie — ek wil gesien voel.”


En dalk is dit die lyn: nie by perfeksie nie, nie by romantic movie-like skouspelle nie, maar by gewilligheid.


Is hy gewillig om te hoor? Is hy gewillig om te leer? Is hy gewillig om moeite te doen, al kom dit nie natuurlik nie?


Want daar bestaan nie ’n perfekte man nie. Maar elke vrou verdien ’n man wat nie haar hart hanteer asof dit iets is wat vanself aan die gang bly nie.


Self worth beteken nie jy verwag rose elke Vrydag nie. Dit beteken jy erken dat jou behoeftes nie “too much” is nie. Dat sagtheid, aandag, liefde en moeite nie luukshede is nie - dis deel van intimiteit. Dis deel van verbintenis.


En ja, daar is iets mooi en Christelik aan om lief te hê sonder om heeltyd boek te hou. Maar selfs Bybelse liefde is nie passief, koud of lui nie. Liefde is diensbaar, ja - maar dis ook aandagtig. Teenwoordig. Opsetlik.


So miskien is die vraag nie: Verwag ek te veel nie?

Maar eerder: Het ek so gewoond geraak aan te min, dat ek nou dink dis al wat ek mag vra?


Want jy hoef nie te bedel vir moeite nie. Jy hoef nie iemand te oortuig dat jy die moeite werd is nie. Maar jy mag wel eerlik wees oor wat jy nodig het. En jy mag ’n standaard hê vir hoe liefde in jou lewe moet lyk.


Nie perfek nie. Nie uit 'n movie nie. Net eg. Net doelbewus. Net genoeg dat jy nie heeltyd alleen voel in iets wat veronderstel is om ’n partnership te wees nie.



Kom ons gee die manne ’n paar idees!


Wat is vir jou romanties in ’n huwelik of verhouding?

Nie Instagram-romanties nie. Regte lewe romanties.

Deel asb!

 
 
 

Comments


© 2025 MK Creative

bottom of page