top of page

Boelies en oorleef: My eerlike brief aan tieners (en my oudste seun)

Updated: Aug 4

Liewe Jy – aan die anderkant van die skerm,


Of dalk, liewe kind van my hart,

of dalk liewe ek, een-en-twintig jaar terug.


Ek weet nie presies wie jy is vandag nie – maar ek weet (effens) hoe jy voel. En ek wil jou ’n storie vertel. Nie een wat ge-sugar coat is of net mooi uitloop nie – maar ’n ware een.


Ja, dit lyk seker soos 'n tannie in die foto. Maar dié tannie is ook al 'n ding of twee deur. En was ook op Hoërskool. Met al sy struggles. Dalk ander tipe stuggles, maar laat ek jou sê, dit was aaklig vir my.


Ek was laasjaar by my 20-jaar hoërskoolreünie. Ek weet – dis iets wat ek belowe het ek nooit sou doen nie. Want hoërskool was vir my ’n tyd van onsigbaar voel, van donker klere, metal musiek luister, swart eyeliner onder my oë dra, en ’n houding wat basies gesê het: “Moenie met my praat nie.”


Ek het gevoel soos ’n sandkorrel in iemand anders se oog op 'n strand-Sondag – ongemaklik, in die pad, en ongenooi.


Maar daar was ek. Twintig jaar later. En op pad na die reünie.

Ook op pad met die hoop dat ek die seuns sou raakloop wie my tas in die laaste periode hoog aan 'n venster opgehang het, sodat ek dit nie kon bykom nie. Of 'n bonus sou wees as ek die Engelse juffrou kon vasvang in 'n gesprek, wat my verkeerde antwoode uit die Lord of the Flies boek toets hardop in die klas gelees het sodat almal kon lag, die dag toe ek afwesig was. Of die boyfriend wat my verneuk en gelos het vir 'n vriendin van my – terwyl my beste-este vriendin geweet het wat gebeur sonder om my te sê.


Maar terug na die storie.


My plan was glad nie om stunning te wees nie. Ek het ’n vrolike geel nommertjie gehad wat dalk sou werk, maar toe bied ’n vriendin vir my twee rokke aan – ek besluit ek het niks om te verloor nie. Toe ek daai een rok aantrek… WOW. Hy het gepraat. Korter as wat ek normaalweg sou dra? Beslis. Maar daai rok het iets in my wakker gemaak. Hy het gevoel soos ‘ek’. Nie die bang kind nie, maar die vrou wat oorleef het.


Maar toe skeur my laaste paar nude kouse met die aantrekslag. Net daar, op die rand van my bed. Uber bitter naby. Ek sit in my rok met spinnerak-bene en paniek.


Gelukkig was dit ’n vriendelike bestuurder (aka 'n vriend wat taxi ry) wat my man gereël het, en sonder om te smeek, stop hy saam met my by Eikestad Mall. Ons hardloop in – en ek voel soos ’n rockster met my eie bodyguard.


Later, met die nuwe kouse en my houding reggeskuif, stap ek in. Dit reën buite. Niemand kon sien in watter motor jy opdaag nie. Die It-girls lyk effens (of bitter) plomp en die ander het ekstra plooie. Die jocks pronk met hul boepens-truie en probeer dat hulle careers opmaak vir hoe hulle nou lyk. Niemand is meer untouchable nie. En skielik voel ek… gelyk.


Of selfs, effens trots.


Mense het met my kom praat. Mense wat ek gedink het het nie eens geweet ek bestaan nie. En ek het besef: dalk was dit nie hulle nie. Dalk was ek so vasgevang in my eie selftwyfel, dat ek nie gesien het ek was wel raakgesien nie.


Of dalk was meeste van hulle net assholes.


Of... dalk is daar ’n derde moontlikheid: dalk het my lewe ná skool, my stories, my eerlikheid – al die stukkies van wie ek geword het – mense op só ’n manier aangeraak dat hulle nou wíl weet wie ek is. Dalk het ek my plek eers ná matriek begin inneem. En dalk is dit ook okay.


Nietemin, ek was happy met myself. Sonder 'n date, maar vir seker vol selfvertroue. Ek sou immers die mooiste man daar gehad het as hy in die land was ;)


Ek wens ek kon teruggaan en vir my jonger self sê: “Jy gaan oorleef. Jy gaan huil, ja. Jy gaan voel jy pas nêrens in nie. Jy gaan dink jy’s vreemd. Maar weet jy wat? Daardie ‘weirdness’ gaan mense jare later help. Hulle gaan sê jou blog het hulle getroos. Jy gaan een dag met selfvertroue daai rok dra – en nie ’n vetgedagte hê nie. Jy gaan lag. Jy gaan liefhê. Jy gaan leef. En jy gaan nogsteeds hier wees.”


Liewe tiener wat dalk nou dink jy gaan nooit uit hierdie donker kom nie: ek was jy. Ek het ook gedink niemand sien my nie. Ek het ook daai gedagte gehad om net te wil verdwyn – êrens in ’n diep donkerte in, weg van alles. Maar weet jy wat? Verantwoordelikhede wag nie. Maar drome ook nie. En soms, net soms, gebeur albei op dieselfde tyd.


Jy’s nie ’n fout nie. Jou pyn is nie onsigbaar nie. Jou teenwoordigheid maak saak.

En selfs al voel jy soms of jy net aankarring en jy weet nie waarvoor nie – jy is besig om te groei. Al voel dit nie so nie.


So: trek die rok aan. Of die hoodie. Dra die eyeliner. Of nie.

Maar moet net nie ophou wees nie.


Want eendag – dalk lank van nou af – gaan jy iemand help met jou storie.


En jy gaan weet:

Ek’s nogsteeds hier.

En alles was die moeite werd.


Met liefde,

’n Volwasse weergawe van jouself

(Of dalk 'n ma wat (soortvan) verstaan)



ree
ree

*Dankie aan die twee vriendinne van skool wat sulke lekker kuiermaats was by ons reunie!

*En dankie aan Inge vir my mooi rokkie en die make-up wat sy so stylvol gedoen het.



Disclaimer: As iemand 'n probleem het met hulle gesigte in die fotos, laat weet my net, dan photoshop ek julle uit ;)


 
 
 

Comments


© 2025 MK Creative

bottom of page