top of page

Steke, stories en Skoonma wat sê jy’s vet

  • Jul 17
  • 7 min read

My vriendin Rentia het nou die dag iets gesê wat my laat dink het.


Nou kyk, Rentia is daai tipe vriendin wat my gereeld hier ’n wyntjie kom drink met stories waar ’n jy nie weet of jy eerste moet lag, bid, of nog ’n glas wyn skink nie. Sy het daai talent om vir jou iets te vertel wat tegelykertyd absurd én heeltemal geloofwaardig is.


So toe sê sy vir my: “Ek verstaan net nie hoekom party skoonma’s hulle seuns met sulke dedication grootmaak vir die grootmenslewe, net om later op te tree asof enige vrou wat hom liefhet, hom gesteel het nie.”


En eerlik? Dis ’n uitstekende vraag.


Want daar is skoonma’s … en dan is daar skoonma’s.


Daai wat jou groet met ’n glimlag, maar wat jou uitkyk asof jy in 'n criminal line up staan. Daai wat “net probeer help”, maar op ’n manier altyd eindig met ’n opmerking oor jou huis, jou kinders, jou kos, jou werk, jou gewig, jou hare, jou moegheid, jou gebrek aan moegheid, of hoekom jy nie die hoender op háár manier marineer nie. Daai een wat bel om te hoor hoe dit gaan, maar sy soek eintlik die juice vir die oorvertel-genot - partykeer selfs aan haar eie seun. Daai wat nie noodwendig in jou gesig lelik is nie, maar wat saadjies plant soos boerin van formaat.


Nie groot dinge nie. Nee. Klein goedjies.


“Ek sê maar net… hy lyk vir my deesdae so gespanne.”

“Dis seker moeilik vir hom as jy so baie werk.”

“Ek het net gedink jy sal dalk wil weet wat mense sê.”

“Ek bedoel dit glad nie lelik nie, maar jy het bietjie voller geword, né?”


”Of sy prys die heeltyd sy ekse,” noem Rentia:

“Daai een se bene is so mooi, oe, die een was 'n model. En voor jy jouself bevind sit en luister jy na 'n 20 minute gesprek oor hoe goed gemanierd een van die ekse se kinders is, wanneer sy weet jy sukkel huidiglik met jou kids. Jy ontsnap na die badkamer, maar met die terugkomslag is die groepie dames se gesprek steeds aan die gang. Eers wens mens maar net die aarde kan mens insluk en dan begin mens wonder hoekom daar so baie ekse is, en hoekom almal dan nou beter is as jy op een of ander manier”.


“Ek het dit nou nie so bedoel nie ...”


Ag asseblief, tannie. Jy bedoel dit presies hoe dit geland het.


En dis die ding van hierdie soort skoonma: sy kom nie altyd met ’n hammer chainsaw nie. Partykeer kom sy met ’n teelepel gif. Klein genoeg dat almal twyfel of dit regtig gif is. Tot almal later siek voel.



Maar hoekom doen sy dit?


Dis die deel wat Rentia my laat wonder het. Want hoekom hou sommige vroue net nie op nie? Hoekom inmeng? Hoekom constantly stir? Hoekom saadjies heeltyd plant? Hoekom aanhou karring aan ’n verhouding wat nie hare is nie?


Volgens mense wat ek ken, is daar is ’n paar redes.


Soms is dit afgunstigheid. Nie noodwendig omdat sy dink jou lewe beter is nie, maar omdat sy nie meer die hoofrol in haar seun se lewe speel nie. En vir party mense voel daai skuif nie soos ’n natuurlike oorgang nie. Dit voel soos verlies. So hulle veg daarteen. Met skuld. Met drama. Met beheer. Met opinies.


Met “ek is net bekommerd”.


Soms is dit identiteit. As ’n vrou haar hele self opgebou het rondom moeder-wees, raak dit moeilik wanneer haar kinders grootword en nie meer onder haar vlerk wil sit nie. Party mense laat los met grasie. Ander klou vas soos ’n plastieksak aan ’n hakkiesdraad in ’n storm.


Soms is dit bloot gewoonte. Sy was nog altyd die een wat kommentaar lewer, stories aandra, mense teen mekaar opwerk, en ’n bietjie chaos skep net om te voel sy het invloed.


En soms is dit omdat niemand nog ooit grense vir haar gegee het nie.



Hoe lyk so ’n skoonma in die wild?


Rentia sê daar is tipes.


Daar is die in-your-face een. Sy gee nie om wie hoor nie. Sy sal openlik iets sê soos: “Dis darem baie kos vir een mens.” of “Hy het beter gelyk voor hy getrou het.”


Dan is daar die agteraf giftige een. Sy glimlag. Sy koop vir jou ’n kers vir jou verjaarsdag. Sy stuur hartjies of 'n Jesus-boodksappie op WhatsApp. En dan hoor jy drie dae later by ’n niggie dat sy glo gesê het jy’s lui, controlling, onnet, te vet, te veel, te min, te modern, te mondig, of nie goed genoeg vir haar precious Pieter nie.


Daars ook die victim. Alles is ’n wond.

“Ek sien mos nou ek is nie meer nodig nie.”

“Ek wil nie inmeng nie, ek sal maar stilbly.”

“Ek dink dis die minste wat hy kan doen; ek het hom alleen grootgemaak.”

Dit laat my dink aan Ella van Vetkoekpaleis - "O die pyn ..."


En dan die gevaarlikste van almal: die heilige helper. Sy bedoel sogenaamd alles goed. Alles is “uit liefde”. Alles is “vir julle beswil”. Maar op ’n manier laat elke interaksie jou voel asof jy ’n eksamen gedruip het waarvoor jy nooit ingeskryf het nie.



Wat doen mens met so iemand?


Eerstens: jy hou op om jouself mal te maak deur te probeer verstaan hoekom iemand wat jou behoort te respekteer, kies om jou te ondermyn.


Verstaan help soms. Maar dit verskoon nie alles nie.


Tweedens: Jy besef vinnig dat die eintlike probleem nie net die skoonma is nie. Dis ook of haar seun bereid is om sy big boy pants aan te trek.


Want luister mooi: ’n Man wat nog elke keer tussen sy ma en sy vrou staan soos ’n verlore rugbybal, is nie besig om vrede te maak nie. Hy is besig om verantwoordelikheid te ontduik.


As sy ma jou aanval, verneder, manipuleer of saadjies plant, en hy sê net: “Ag, dis maar hoe sy is,”dan is hy nie neutraal nie. Hy’s gemaklik.


En daai is ’n probleem.



Praktiese goed, want ons kan nie net hier sit en moan nie


1. Noem die ding wat dit is

As iemand konstant klein steke gee, hou op om dit “misverstande” te noem. Dis nie altyd ’n misverstand nie. Partykeer is dit patroon. En patrone moet benoem word voor hulle verander.


2. Moenie elke steek probeer verdedig nie

Jy hoef nie elke opmerking te beantwoord met ’n TED Talk oor hoekom jy eet, voel, werk, hoe jy parent of bestaan soos jy doen nie.


’n Rustige: “Dis ’n vreemde ding om hardop te sê” werk wonders.


Of: “Ek gaan nie daai kommentaar entertain nie.”


Kort.

Netjies.

Skoon.


3. Jou man moet sy ma hanteer

Nie jy alleen nie. Nie jy as die “slegte” een nie.

Hy moet duidelik kan sê:

“Ma, moenie so met my vrou praat nie.”

“Ma, ons besluit dit self.”

“Ma, daai onderwerp is nie oop vir bespreking nie.”

“Ma, moenie opinies lewer oor my vrou se gewig nie, dis onsensitief.”

Hy moet die grense stel. As hy dit nie kan doen nie, gaan jy vir jare lank as die probleem geverf word, terwyl almal rondom die eintlike probleem toneel speel.


4. Beperk toegang as grense nie werk nie

Nie elke mens verdien volle toegang tot jou huis, jou kinders, jou emosies en jou innerlike vrede net omdat hulle familie is nie.


Familie is nie ’n free pass na chaos nie.


As sy ná gesprekke steeds aanhou stir, plant en skinder, dan verminder jy tyd. Verminder inligting. Verminder blootstelling. Dis nie wreed nie. Dis wys.


5. Stop die behoefte om gewen te wil word

Jy hoef nie haar gunsteling te wees nie. Jy hoef nie haar te beïndruk nie. Jy hoef nie elke Sondag met ’n perfekte slaai op te daag sodat sy miskien eendag besluit jy’s aanvaarbaar nie.


Sommige mense gaan jou nie like nie, al vou jy servette in swane.

Laat gaan die droom van approval.


6. Hou rekords in jou eie kop

Mense soos hierdie is goed daarmee om later te maak asof jy oorreageer. Daarom moet jy vir jouself eerlik bly oor patrone. Nie obsessief nie. Net nugter. As iets elke keer dieselfde smaak in jou mond los, is dit gewoonlik nie toevallig nie.


7. Bly classy, maar nie stil nie

Dis nie nodig om terug te byt op haar vlak nie. Maar dis ook nie heilig om alles te vat en te glimlag nie. Daar is ’n groot verskil tussen vrede maak en jouself laat vertrap.


8. Note to my future-self - wees eendag beter

Try tog net eendag om nie 'n teef te wees nie. Jou beurt kom. Wees graceful, selfverserkerd, liefdevol, en hou jou motiewe skoon. Al is dit moeilik om van jou precious Pieter te laat gaan. My dag kom meer as een keer, ek het 2 seuns.



En as sy regtig dink jy is vet?


Wel. Dan is dit eintlik glad nie oor jou lyf nie.


Mense wat jou gewig as wapen gebruik, probeer selde gesondheid bevorder. Hulle probeer posisie vestig. Dis vernedering vermom as bekommernis.

En eerlikwaar? Enige mens wat dink ’n ander volwasse vrou se liggaam is groepsbespreking, kort self ’n ernstige hartsonderhoud.



Die groter waarheid


’n Seun is nie gebore om vir ewig onder sy ma se emosionele duvet te bly nie.


Dis gesond dat hy lief is vir haar. Dis mooi dat hy haar eer. Maar daar kom ’n punt waar ’n man sy eie huis, sy eie denke, sy eie lojaliteite en sy eie rugstring moet hê.

Laat gaan beteken nie jy verloor jou kind nie. Dit beteken jy respekteer dat hy nie meer een is nie.


En party skoonma’s verstaan dit.


Ander? Ander hou aan karring aan die nuwe vrou in sy lewe soos iemand wat kwaad is die rolprent het aangegaan sonder haar toestemming.



Ten slotte, namens Rentia, natuurlik


”As jy ’n moeilike skoonma het, wil ek net sê: jy’s nie mal nie. Jy’s nie oorsensitief nie. En jy’s nie verkeerd omdat jy moeg is vir die konstante ondertone, kommentaar en ongevraagde inmenging nie”, sê Rentia.


Die geheim is nie om harder te probeer nie. Die geheim is om helderder te sien.

Sien die patroon. Sien die spel. Sien waar jou grens moet kom.


En dan, my mens, trek jy hom in.


Netjies. Ferm. Sonder ’n speech. Soos ’n vrou wat nie meer beskikbaar is vir iemand anders se onverwerkte issues in ’n matching sweetpakkie nie.


Sy hoef nie van jou te hou nie. Maar sy gaan jou respekteer - of sy gaan jou minder sien.


Groete, Rentia

 
 
 

Comments


© 2025 MK Creative

bottom of page