Beweeg. Al is dit een tree op ’n slag.
- Madre Kohn

- Sep 21
- 3 min read
Soms is dit net een tree wat jy kan gee. En dis genoeg.

Ek het dit weer besef toe my vriend, Lourens, vir sy foto-klub projek ’n beeld van my en my twee seuns vasgevang het. Hy het ’n double exposure tegniek gebruik -twee lae van die lewe, ineen gevleg: my gesig, my kinders, en die pad waarop ons loop. Dis nie net ’n foto nie. Dis ’n storie van liefde, verlies, en vorentoe beweeg.
Toe ek hierdie foto die eerste keer sien, het dit my laat dink aan ander kere wat ek al hier geskryf het oor hoe dinge skeefgeloop het. Ek het gedeel oor daardie dae toe ek gevoel het ek wil alles net los, toe die druk van werk, ma-wees, en verlies soos ’n ondraaglike gewig gevoel het. Daar was tye wat ek gewonder het of ek ooit weer lig sou sien, of ek ooit weer die moed sou kry om aan te hou.
Maar nou, wanneer ek hierdie double exposure image sien, besef ek iets: selfs in daardie donkerste seisoene het ek nie stilgestaan nie. Ek het miskien net ’n klein tree gegee, party dae skaars merkbaar. En tog, met die terugkykslag, sien ek hoe daardie klein treetjies my uit daardie plek geneem het waar ek vasgevang gevoel het.
Een van die goed wat my deurgedra het, was dans. Nie dansklasse of ’n fancy choreography nie - net ek, alleen, wanneer niemand kyk nie. Ek sou die musiek aansit, my oë toemaak, en net beweeg totdat ek vergeet wat rond om my aangaan. Daardie oomblikke van wegraak in die ritme het my gehelp om my te cope wanneer die lewe te veel geraak het. Dit het my herinner dat selfs in pyn, daar steeds ’n plek vir vreugde is, al is dit in ’n stille sitkamer, met net my en die musiek terwyl die kids slaap.
En nou, op hierdie punt, besef ek dit gaan dalk oor meer as net dans. Dis beweging self wat ’n mens dra - of dit nou dans is, of stap, of uiteindelik die moed om weer by ’n gym aan te sluit. Want my hande en liggaam wys my die prys van die lang ure agter die rekenaar sit op die huidige oomblik. Dis asof my lyf skree dat dit nie gemaak is vir net sit en staar na ’n screen nie.
Beweging is die een tree vorentoe wat jy fisies kan gee, selfs al voel jou binneste vasgekeer. En elke druppel sweet, elke tree op ’n elliptical cycle, elke dansende draai in jou sitkamer, sê vir jou: ek is nog hier. Ek kan nog beweeg.
Al is/voel alles anders up to shit.
Ons dra almal lae van stories in ons. Party is sag en vol lig, ander is donker en rou. Wanneer jy na dit saam kyk, sien jy die volle prentjie. En dalk is dit presies wat ons nodig het om te onthou: jy kan liefde en pyn in dieselfde asem dra, en jy kan steeds vorentoe beweeg - op jou eie pas, in jou eie tyd.
Die waarheid is: die lewe gaan nie makliker word nie. Die storms kom, en hulle gaan wéér kom. Ek het dit al gesien en beleef, en ek weet dit lê weer voor. Maar elke tree, al is dit klein en skuifelend, vat jou verder as gister. Dis hoe jy weer leer asemhaal. Dis hoe jy jou mense stywer vashou. Dis hoe jy die glimlag terugkry wat jy gedink het vir altyd verlore is.
Hierdie foto herinner my daaraan dat ons stories nooit net swart of net wit is nie.
Hulle is lae. Hulle is double exposure moments - liefde, verlies, hoop, en opstaan - alles tergelyk. Ek het dit gesien in my eie pad: die dae van moedeloosheid en die dae van hoop, die trane en die lag, die gebroke en die mooi. Verlies én verlief. Dit alles leef saam, soos lae in een foto.
En miskien is dit genoeg om net daardie een tree te gee. Net vandag. Net nou. Net op jou eie pas. Want dit is hoe jy stadig maar seker weer lewe vind.
Waar kan jy jou eie tree vandag gee? Dit hoef nie groot en impressive te wees nie. Dit kan so eenvoudig wees soos om asem te haal, iemand te bel, jou skoene aan te trek en ’n draai te gaan stap, of net jou hand op jou kind se skouer te sit.
Jou pas is joune, en dit is genoeg.
“Julle hoef nie bang te wees nie, want die Here julle God gaan saam met julle; Hy sal julle nie begewe of verlaat nie.” – Deuteronomium 31:6









Comments