top of page

Mascara, memories en mense wat verdwyn het

Updated: Jun 30

Jou man is dood. Jy kan dit nie glo nie. Niemand kan dit glo nie. Almal is geskok en almal wil jou bystaan. En hulle doen. Van hulle wil net die goed terug hê wat hulle vir jou man gegee (nie geleen, gegéé) het, maar die post gaan nou nie oor hulle nie. Die res van hulle, wel, hulle wil help.


Daar is fases van weduwee-wees. Ek praat nou nie hier van die ‘stages of grief’ nie. Ek praat oor die sosiale implikasies van die weduwee-wêreld.


In die een oomblik is jy overwhelmed met liefde, geduld en deernis, maar iewers langs die pad raak mense gatvol en dan word jy by ‘n braai vertel dis nou tyd om op te hou praat oor jou oorlede man wanneer jy een van sy famous braai paai resepte deel. Glo moet jy nou “oor dit kom”.


Eers bring hulle die caseroles. Dan bring hulle die stilte.

Jip, van kospotte tot krieke.


Mense raak moeg daarvoor dat jy nie meer vir húlle kan wees nie. Hulle voel hulle gee so baie - emosioneel, prakties, teenwoordig, maar jy’s net nie daar om dit terug te gee nie. Dis frustrerend vir hulle dat jy nie raaksien waardeur húlle gaan in die lewe nie, asof jou pyn hulle s’n oorskadu.


En dan, skielik, besef jy: jy’s eintlik ‘n vriendin se gat werd. As jy net kon luister, vra, ondersteun. Maar jy het eenvoudig nie daardie kapasiteit nie. Jy’t skaars genoeg vir jouself.


En so raak mense al minder, en minder. Tot jy met jou eie geselskap sit, en daai een of twee vriendinne wat nie skrik vir trane, of sarkasme, of jou ongemaklike stilte nie. Daardie wat nog eintlik maar altyd daar was van die begin af. No matter what.

 

Maar hier is die fases, uit absoluut Alles behalwe Vanilla-perspektief, gelys:

 


1.     Die kospotte fase:


Wat gebeur: ‘n Vloed van kos, blomme, boodskappe en mense wat hulp aanbied stroom jou lewe in. Veral die eerste paar weke.


Emosionele effek: Jy voel totally overwhelmed, geliefd, maar ook in skok. Jy voel jy hou als bymekaar, absoluut net oor almal anders wat jou bystaan.

 


2.     Die ‘waar is almal heen’ fase:


Wat gebeur: Vriende hou op bel. Jy word nie meer genooi na die braais nie. Jy voel ewe skielik soos die ‘derde wiel’ wat almal ongemaklik laat voel.


Moontlike redes:

  • Mense weet nie wat om te sê nie.

  • Hulle dink jy is nou okei.

  • Party mense het opgedaag uit obligation of pity. Ouch. Hierdie is ‘n baie tough, maar tog clarifying filter vir regte verhoudings.

  • Jy het ewe skielik ‘warm wulpse weduwee status’ gekry. Dis nie dat jy iets gedoen het nie - jy’t net jou hare gewas en 'n bietjie mascara aangedurf. Maar nou dink almal jy’s op die jag. Nie vir geluk nie, o nee. Vir húlle mans.



3.     Die nuwe verhouding “skandaal” fase:


Wat gebeur: Jy begin ‘n nuwe verhouding en ewe skielik is die “jy sal weer iemand vind” comments vergete:


  • Jy word beoordeel oor hoe lank jy gewag het.

  • Mense vergelyk jou nuwe liefde met jou oorlede man.

  • Jy word hanteer of jy disrespekvol, of selfs immoreel is. Daar’s min dinge wat mense so ongemaklik maak soos ’n weduwee met lipstiffie en ’n plan.

 


En as jy gedink het dít was die laaste fase, dink weer. Daar’s nie ’n finale bladsy in die weduwee-handboek nie. Jy’t nie net jou persoon verloor nie - jy moes jou plek in die wêreld herbedink. Jy moes weer leer leef in ’n wêreld wat aanhou draai, al het joune gestop. En al hierdie fases het een ding gemeen: jy’t nie daarvoor gekies nie. Maar jy’s steeds hier. En as jy nog wonder wat nou...

 

 

Hier is my ongevraagde raad:


Moenie jou genesing meet aan iemand anders se stophorlosie nie. Rou het nie ’n vervaldatum nie, en jy hoef nie jou lewe op ‘pause’ te hou vir mense wat net vir die begrafnis daar was nie. Die wat verdwyn het, was geleen, en die wat gebly het, is jou mense. Lag weer. Wees weer lief. Huil as jy moet. Jy is nie stukkend nie, jy is ’n beautiful mosaic piece in the making!


Vind ’n uitlaatklep. Skryf, skree, surf. Watookal. Verf, plant tamaties of begin ’n blog soos Alles behalwe Vanilla. Want daardie onderdrukte emosies gaan êrens uitkom - eerder deur iets opbouend, as jy in ’n bar besig om antwoorde te soek op plekke waar jy dit nooit gaan kry nie.


Sommige vrae het nie antwoorde nie - net eggo’s waarmee jy leer saamleef.


En wanneer die lasagnes op is en die skindertonge stil raak, hoop ek jy's nog steeds besig om op te staan - lipstiffie aan, sop in die pressure cooker, en jou hart vasgestik met jou eie kreatiewe garing.


Jy is nie te veel nie. Jy is nie te vinnig nie. Jy is net op tyd. En jy is genoeg.

 

Liefde Madré

 

As jy iemand ken wat dalk ook van kospotte tot krieke gegaan het - deel dit gerus met haar. Miskien het sy vandag nodig om te hoor dat sy nie alleen is nie.

2 Comments


Elsjé
Elsjé
Jun 27

Ons " nie weduwee's " voel ook soms alleen, maar dis ook OK. Ek sit al lankal nie meer by tafels, waar ek die besprekingspunt is as ek opstaan nie - sad, but true, mense kan so lelik wees, veral vrouens, dis of niemand mekaar enige iets gun nie,nie eers geluk nie. Ek is gelukkig by my huis en handjie vol opregte vriendinne, vir hulle pas ek soos goud op.!

Genoeg van my - ek love jou styl van skryf. Dink aan 'n boek, jou blogs is té kort 😊

❤️

Like
Replying to

Dankie vir jou comment, Elsje! Ja, ek dink ook hierdie gevoel strek verder as weduweeskap - dis deel van vrouwees! Ons almal struggle eintlik maar met dieselfde goed, en hoe mooi wêreld sal dit nie wees as ons net bietjie meer vir mekaar daar kan wees nie, unconditionally.


'n Boek klink na 'n toekomsplan, ek wens ek het geweet waar om te begin!

Sê vir jou vriendinne ek sê hulle is awesome!

Like

© 2025 MK Creative

bottom of page